Die Moederkerk Beursfonds is minder as tien jaar oud. Dit is begin om uiters behoeftige Kayamandi kinders se skoolgeld van R250 per jaar te help betaal: Weeskinders of kinders van enkelouers, ’n paar met twee, baie behoeftige ouers. Daar is gemik op 30 kinders se skoolgeld daardie eerste jaar, dit wil sê, die Beursfonds se  begroting was R7500. Vanjaar draai ons begroting by die R300 000.

Sedert Kayamandi High School ’n “non-fee-paying school” geword het, het die oorspronklike rede vir die fonds weggeval, maar daar is gevind dat as hulle Matriek uit is, sulke jong mense nie kan begin studeer nie, want hulle het nie eers die geld vir die administrasiefooi van ’n paar honderd Rand wat jy saam met ’n universiteits-of kollege-aansoek moet stuur nie. Dan moet hulle ook verder eers by ’n tersiêre instansie geregistreer wees voor hulle om ’n Staatslening aansoek kan doen.

Registrasie kos tussen R1200 en R5000 per student. Dit betaal die Fonds ook en vul studente se Staatslenings dan verder aan met geld vir boeke, vervoer en ook vir kos, soms ’n bietjie sakgeld, en af toe klere of ’n tweedehandse skootrekenaar. Boeke kan tot meer as R2000 per student beloop.  Klasgelde word nie normaalweg gedek nie. Die Beursfonds help tans meer as veertig jongmense om hulle vir werk te bekwaam. Omtrent net soveel staan nou al in ’n beroep. Een met haar splinternuwe B.Tech-graad het Vrydag 2 Mei as meganiese ingenieur begin werk!

Aspirant-begunstigdes kan nie normaalweg self aansoek doen om hulp nie:  hulle word deur ’n skoolhoof of maatskaplike werker aan ons uitgewys. Van hulle is nie meer net van Kayamandi nie—ons kry verwysings uit alle oorde, maar die vereiste is hulle moet persoonlik bereikbaar wees. ’n Huisbesoek of onderhoud en behoeftebepaling word gedoen. Beurse beslaan nie ’n vaste bedrag nie, maar uitbetalings geskied na gelang van behoefte. ’n Komitee van Gemeentelede dien as mentors, met tussen een en 15 onder sy of  haar sorg.

Mentors vervul die rol wat meer gegoede en kundige ouers self vir hulle kinders speel: hulle gee raad en ondersteuning, help met verblyf vind, verwys jongmense met probleme waar nodig na professionele sielkundige hulp en help selfs met werk-aansoeke (dit wil sê, help met vervoerkoste na ’n onderhoud, gee raad oor onderhoud-voering, juig saam oor suksesse en bid saam oor nederlae).  Dié wat begin werk het, bly steeds Moederkerk se dankbare kinders!

Kyk in die jongste Gemeenteblad na van ons suksesverhale: dis tans op die kerk se website en die harde kopié word vandeesweek vrygestel. Daarin vra ons ook, soos met die PowerPoint-vertoning voor kerk vanaand, of elke gesin of vriendekring in die gemeente een aand se lekker uiteet se geld vir die Beursfonds sal gee. Een aand se uiteet-geld help so ’n student miskien vir ’n week of langer!

Daar sal elke Sondagaand in Mei ’n deurkollekte wees, maar bydraes kan ook na die kerk se bankrekening, met verwysing “Beursfonds” gaan. AL julle bydraes dien om hierdie uiters arm studente te versorg: die Kerk se kassiere beheer uitgawes en mentors dien vrywillig. Daar is geen oorhoofse kostes nie! Baie dankie!