Pastor César : Chiconono (Mosambiek)
Moederkerk is vir langer as 20 jaar betrokke by Chiconono Gemeente in Noordwes Mosambiek. By twee geleenthede het ons Predikante uit ons eie geledere soontoe gestuur om daar te werk.  Die werk daar en die verhoudings met die plaaslike kerk het in die laatste jare in so ‘n mate gegroei dat ons in samewerking met die Tombini Sinode ‘n voltydse predikant uit eie geledere daar ondersteun.  Op een van die foto’s sien ons ds Cesar en sy gesin wat daar werksaam is.  Ons is opgewonde oor die geestelike inspuiting wat ds Cesar drie maande gelede gekry het met die bywoning van ‘n Dissipelskap Opleidingskonferensie wat hy in Quelimane bygewoon het. Een van die uitvloeisels van die opleiding is dat ds Cesar dadelik ‘n lidmaat begin toerus het om dmv sokker jongmense te dissipel. Covid raak ook hulle gemeenskap.  Hulle kan nie eredienste hou nie.  Cesar doen Bybelstudie met kleingroepe om sy gemeente geestelik te versorg.

Gebedsversoeke: Vir ontvanklikheid onder die Yao bevolking (meestal Moslems) om die Goeie Nuus te ontvang. Hou die gemeentelede in julle hart dat hulle geloof sal bly behou met al die uitdagings wat Covid daar bring. Bid vir Cesar se kinders wat almal nou op hoërskool is, vir hulle opvoeding en hulle eie geestelike groei. Bid vir die geestelike leiding wat ds Cesar aan die gemeente gee, vir geloof en die vermoë om lidmate wat swaarkry te bemoedig met die Evangelie.