Hoe word ek versorg?

’n Gemeente is ’n plek waar lidmate geestelik en emosioneel ondersteun
word. Veral wanneer hulle deur moeilike tye gaan. Hoe gebeur dit in
Moedergemeente?

CHRISTEN-VRIENDE VERSORG MEKAAR

Meeste lidmate ervaar dat wanneer hulle deur moeilike tye gaan, hulle vriende die mense is wat hulle veral ondersteun. En dit is reg so. Dit is immers wat vriendskap vir Christene moet beteken. Ons wil in die gemeente geleenthede skep waar ons as gelowiges beter toegerus kan word om mense in ’n verskeidenheid van situasies te kan ondersteun.

DIT GEBEUR IN KLEINGROEPE

In min ander strukture kan ’n mens mekaar as gelowiges beter geestelik ondersteunen versorg as in ’n kleingroep. Dit is een van die mees effektiewe maniere om as deel van ‘n groot gemeente tog tuis te kom. ’n Groot verskeidenheid kleingroepe bestaan, byvoorbeeld Bybelstudiegroepe, Kleingroepe vir Jong Werkendes, vir Jong Getroudes, Familieomgeegroepe, Kleingroepe vir Studente, Kleingroepe vir Senior Lidmate, Mansgroepe en Vrouegroepe. Baie lidmate skakel jaarliks in by die “Sewe Weke groepe.” Enkele wyke vervul ook die rol van ’n kleingroep.

As jy wil deel word van ’n bestaande kleingroep of ’n nuwe groep wil begin, kontak vir Marié by kleingroepe@moederkerk.co.za of bel die kantoor.

DIE PREDIKANTE IS ALTYD DAARVOOR BESKIKBAAR

Al die predikante beskou dit as een van hulle primêre take om lidmate wat deur moeilike tye gaan emosioneel en geestelik te ondersteun. Ons is mede-reisigers op jou pad met die Here. Geen gemeente kan ooit te groot wees daarvoor nie. Geen predikant is ooit te besig daarvoor nie.

  • Kontak asb. die kantoor as jy weet van iemand wat deur ’n moeilike tyd gaan (siekte ens.) of wat ’n besoek van ’n predikant sal waardeer. Moenie aanvaar dat die predikante reeds weet nie – dikwels weet ons (nog) nie!
  • Bel asseblief die kantoor of enige van die predikante wanneer jy ‘n slag behoefte het aan ’n gesprek, besoek of gebed. Die predikante is elke dag op kantoor beskikbaar, maar sal ook met graagte na jou huis toe kom.
  • Jy hoef natuurlik nie net kontak te maak as jy in ’n krisis is nie. Ook as jy sommer net oor geloofsvrae wil gesels of oor jou eie geloofspad sal dit vir die predikante ’n voorreg wees om op ’n stukkie van jou reis met God met jou saam te loop.
BESOEKE AAN SENIOR LIDMATE

Alle senior lidmate (in aftree-oorde sowel as in wyke) word tuis deur verskeie van ons predikante besoek. Dit is vir Moedergemeente belangrik dat senior lidmate sal ervaar hulle ’n spesiale plek in die gemeente het – en dat die Here hulle op baie maniere in sy diens roep en gebruik.

  • Kontak asb die kantoor met vrymoedigheid wanneer ook al jy behoefte het aan ’n gesprek, besoek of gebed.
  • Dankie aan so baie senior lidmate wat deur hulle voorbidding en deelname ’n onmisbare rol speel in die bediening en aksies van Moedergemeente.