Hoe kan ek ‘n Koninkryksverskil in die wêreld maak?
Een van die mees bevrydende insigte wat ons die afgelope tyd gekry het, is hoe omvattend elke gelowige se roeping is. Dit omvat nie net gemeentelike betrokkenheid nie, maar totale gemeenskaps-betrokkenheid. Dit is nie net in my af-tyd nie, maar het ook met my werk en huis te make. Roeping is vir elkeen van ons, met volle inagneming van jou beskikbare tyd, die lewensfase waarin jy verkeer, jou unieke passies, gawes en persoonlikheidstipe! Daar is baie bestaande moontlikhede van betrokkenheid in die gemeente en gemeenskap. Daar is egter ook volledig ruimte vir die totstandkoming van nuwe bedieninge. Nuwe bedieninge ontstaan waar lidmate met die passie daarvoor inisiatief neem en deur die gemeente ondersteun word. Origens is dit vir ons krities belangrik dat elke lidmaat van ons gemeente bewustelik vanuit sy en haar verhouding met die Here sy of haar beroep beoefen of dagtaak verrig. Daarom het ons ‘n inisiatief wat ons noem God@Work waardeur ons toerusting verskaf vir die uitleef van jou beroep as roeping.
GEMEENSKAPSBEDIENING
Umthombo beteken “bron” of “fontein”, dus beteken Stellumthombo iets soos die fontein of bronvir Stellenbosch. Ons groter gemeenskapsprojekte resorteer van 2017 af onder die sambreel van hierdie nuutgestigde nie-winsgewende maatskappy. Die maatskappy het ook belastingvrystelling status, dus kan Art 18A sertifikate bekom word en kan donasies van belasting afgetrek word. Die volgende gemeenskapsprojekte is tans onder Stellumthombo geregistreer:
Masandise studiehulp
Uit nederige pogings om hoërskoolkinders in Khayamandi met skoolgeld by te staan, het die Moederkerk Beursfonds onder leiding van die stuurspan gegroei tot ‘n volledige diens wat op finansiële en loopbaanondersteuning vir studente in hoër opvoeding fokus. Loopbaankeuse beplanning en psigometriese toetsing word
gevolg deur toelating tot die beursprogram en gaan gepaard met deurlopende mentorskap. Stories van hoop word in oorvloed hier vertel. Lees dit op ons webwerf en raak gerus betrokke deur ‘n finansiële bydrae, aanwending van jou spesifieke kundigheid en mentorskap by een of meer van ons studente.
GETUIENISBEDIENING
Dit is betekenisvol dat NG Gemeente Stellenbosch (Moederkerk) die tweede oudste christelike gemeente in die land is (gestig 1686, na Groote Kerk in Kaapstad). Ons gemeente se geloofstorie omsluit dié van ons ganse dorp – ander gemeentes het hieruit gegroei. Ons is meer as ooit bewus van die feit dat ons nie hier is net ter wille van onsself nie. Daarom is ons gemeente se visie om ‘n Rivier van Lewende Water te wees, iets wat ons die heel tyd wil herinner aan twee belangrike dinge:
- Dat ons bewus sal bly van die BRON waaruit ons leef,
- Dat ons geroep is om die lewende water te laat vloei om die wêreld te reinig, om lewe en hoop te bring.
Ons getuienisbedieninge na buite word gerig deur sekere beginsels (laai die dokument hier af).
Mosambiek
Ons betrokkenheid by Chiconono in die Noord-Weste van Mosambiek het geskuif van die uitstuur van ‘n voltydse predikant uit ons eie geledere na die ondersteuning van ‘n plaaslike leraar in samewerking met die Tombini Sinode. Hierdie is ‘n lang betrokkenheid – meer as 20 jaar. Ons poog om deur ons ondersteuning ‘n pad saam met die gemeente en sinode te stap wat kan groei in ‘n selfstandige en volhoubare bediening. Ons is dankbaar vir ds César en sy gesin wat vir die afgelope twee jaar in hierdie akker werk.
Vision Fields
Ons gemeente ondersteun vir August Basson wat deur ons uitgestuur is en vir 20 jaar in Lesotho die Growing Nations program van die grond af opgebou het. Dit is opvallend hoe August se bediening gegroei het van waar hy plaaslike mense opgelei het in natuurlike boerdery metodes (farming God’s way) en dissipelskap, en hoe dit uitgeberei het na Madagaskar, ander Afrika lande asook Suid-Amerika. Sedert 2017 is August ‘n mobiliseerder wat mense uit Afrika oplei en toerus om deur hulle werk die oes vir die Koninkryk in te bring. August werk steeds onder die sambreel van Africa Inland Mission en doen steeds opleidingswerk vir Growing Nations in Lesotho.
Maleisië
Hans Combrink se werk as Bybelvertaler onder die Kenia groep in Maleisie het gegroei na die opleiding van plaaslike mense om die vertalingsproses oor te neem. Hierna was hy die Streeksdirekteur van Wycliff in Asië. Tans is hy die Direkteur van Vertaling vir Biblica Internasionaal. Ons gemeente ondersteun steeds die vertalingswerk van die Kenya projek in Maleisië waar Hans op ‘n ad hoc basis betrokke is.
Missie Japan
Missie Japan is ‘n vennootskap van meer as 40 jaar tussen die RCJ (Reformed Church in Japan) en die NG Kerkfamilie. Japan is die tweede grootste onbereikte mense-groep in die wêreld (met ‘n bevolking van 127 miljoen). Sedert die begin van 2018 is ons gemeente betrokke by Stephan van der Watt en sy gesin wat vir die afgelope 8 jaar reeds werksaam is in Japan. Stephan se verantwoordelikheid het gegroei van ‘n leraar van ‘n plaaslike gemeente daar na ‘n dosent in Pastorale Teologie en Sorg by die Kobe Gereformeerde Teologiese Kweekskool.
Friends of All Nations Stellenbosch
(Internasionale Studentebediening)
Stellenbosch Universiteit het meer as 4400 internasionale studente van 110 lande, wat hoofsaaklik nagraads is. Baie internasionale studente is die room van hul lande en toekomstige leiers. Baie kom uit geslote lande vir die evangelie, maar is ontvanklik vir gasvryheid en vriendskap. Ondersteuning word aan vreemdelinge gebied deur ʼn Engelstalige erediens ( Stellenbosch International Fellowship) , ʼn ondersteuningsgroep vir vroue, Bybelstudies, kampe en uitstappies. Kom woon gerus die erediens by in die Khaya Sondaeoggende om 10h30.
Ds Jurie en Magdaleen Goosen en medewerkers is verantwoordelik vir die bediening. Dis ʼn geloofaksie waar hulle vir hul lewensonderhoud en bedieningsuitgawes afhanklik van vrywillige bydraes. Kontak Jurie (083 235 5920) en Magdaleen (082 427 2924) of stuur epos na fans@moederkerk.co.za indien jy meer inligting benodig of betrokke wil raak
Indien jy by enige van bogenoemde projekte betrokke wil raak of meer inligting benodig, kontak vir Jan van Zyl by jan@moederkerk.co.za.
ANDER BEDIENINGE
Daar is 'n verskeidenheid van bedieninge waarby ingeskakel kan word. Sommige bedieninge funksioneer in die gemeente en ander funksioneer vanuit die gemeente en in samewerking met ander instansies. Voorbeelde van ander bedieninge word hieronder bygewerk.