1. Stephan van der Watt: Missie Japan
Stellenbosch lê na aan ons harte. Ek en Carina het beide baie jare hier deurgebring. Carina by die Fakulteit Ekonomie en ek by Teologie. Ons nagraadse studies en werk hier het ons baie geniet! Ek was onder ander vir ‘n hele dekade (eers) by Kruiskerk en (later) Moederkerk aktief betrokke. Hier is ek gevorm deur diep verhoudinge met verál die leraarspanne en ook met verskeie lidmate. Gedurende 2002-2005 het ek die voorreg gehad om oorkant die straat by Communitas (destyds BUVTON) te werk, o.a. as deel van die Suider-Afrikaanse Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes.

Later, nadat ons getroud is, het ons ‘n ruk in Stellenbosch gewoon voordat ek ‘n beroep gekry het na Aliwal-Noord as leraar. En vandaar, in 2008 het die roeping na Japan glashelder op ons pad gekom. Maar die ervaringe en gesprekke wat ek/ons hier op Stellenbosch deurleef het, het ‘n bepalende invloed op ons roeping na Japan gehad. Ons is diep dankbaar dat Moederkerk sedert 2018 amptelik by ons betrokke begin raak het. Missie Japan se etos en visie is goed belyn met die gemeente se eie getuienis strategie en missionale gerigtheid. Kom ons bou dit uit!

Die ontstaan van die NG Kerk se getuieniswerk in Japan – onder toesig en sorg van ons Japannese susterskerk, die Christelik Gereformeerde Kerk van Japan, oftewel die RCJ – dateer meer as 50 jaar gelede. Ons is dankbaar om daarby betrokke te wees en ook tans op besoek te wees in Suid-Afrika. Ons is hier om te kom terugvoer gee, te rus én om ons ondersteuning vir die volgende termyn uit te bou. Dis ‘n voorreg om bemoedig te word deur baie ondersteuners wat as medewerkers hierdie visie deel, al is dit hierdie keer midde-in die pandemie met unieke uitdagings.

Ons gebroke pogings om te getuig van die lig van Christus in Japan, skiet ver kort. Maar deur die werk van die Heilige Gees, is ons hoopvol dat ons daar-wees tóg ‘n betekenisvolle impak maak. Ons weet getuieniswerk is nie gelyk aan propaganda nie. Daarom ‘smous’ ons nie met die evangelie met luidsprekers op straathoeke en gebalde vuiste in die lug nie. Maar Christus self, as waarheid, weg en lewe, en die greep van Sy liefde op ons, dring ons om te getuig, tussen die massas én een vir een. Ons getuig oor Sy lig (2 Kor. 4) en oor Lewende water wat mense se diepste dors kan versadig. Ons getuig deur vriendskap en gasvryheid, daar waar ons geplant is in Kobe, én vérder, op ander plekke waarheen ons genooi word om te bemoedig, ondersteun of toe te rus. Ons fokus is verál om die lang pad saam met mense te stap in ’n land, waar 99 uit elke 100 mense feitlik geen idee het wie Jesus Christus is nie, en die kerk op die rand van die samelewing worstel vir bestaansreg. En verder, waar Christene gereeld verwerping en isolasie beleef as gevolg van hulle geloof.

Carina is voltyds besig met die drietalige tuisonderrig vir die vier Van der Watt kinders. Dis ‘n baie veeleisende, maar vervullende voorreg. Verder neem sy leiding by ons plaaslike gemeente se kinderbediening, en het sy ook ‘n passie om vroue van ons gemeente en kweekskool te ondersteun. Haar inisiatief met ‘n gasvrye huis – al is dit tydelik getemper deur die pandemie – maak deure oop vir vertroue bou en evangelisasie. Stéphan lei teologie studente op by Kobe se Gereformeerde Kweekskool (KRTS). Buiten vir klasgee in pastorale sorg, het hy ook in 2016-2020 by meer as 100 geleenthede regoor Japan aanbiedings gedoen, d.m.v. preke, kampe, huweliks-verryking byeenkomste of radio onderhoude én seminare. Oor temas wat wissel van diakoniale werk, evangelisasie, ramp-ondersteuning tot gender of geloofsvorming in families. Hy is ook verder betrokke by die RCJ se Westelike Ring op verskeie maniere, is lid van die Sinode se Diakonale Aksie kommittee en dien ook op die bestuursraad van ‘n kerklike sorgsentrum vir gestremdes in Hiroshima. Die uitdaging om voortdurend en voldoende voorbereid te wees vir al die verpligtinge in Japannees, is ‘n uitdaging wat hom en Carina baie afhanklik hou van God se genade, en ondersteuners se gebede.

KRTS se werksaamhede omvat nie net teologiese opleiding nie, maar alles is diep gewortel in kerklike lewe en bediening. Teologiese onderrig vorm natuurlik ‘n kerndeel van getuieniswerk. Dit lê inderdaad in die hart van ons gestuurdheid opsigself. Die geestelike vorming van plaaslike leraars en kerkleiers is essensieël, ten einde die kerk toe te rus en op te bou. Die doel is om pastorale versorgers met missionale harte te kweek, want in dié supersnel-verouderende nasie is die kerk se voortbestaan op die spel. Die tekort aan predikante en bedienaars van die evangelie is krities want meer as een derde van RCJ leraars is ouer as 70 jaar.

Daar is net een liggaam van Christus en net een Gees, soos daar net een hoop is waartoe God ons geroep het (Efesiërs 4). Ons deel wêreldwyd een geloofstaal, te midde van radikale verskille. Die RCJ en die NGK-familie deel ook boonop een Gereformeerde geloofstradisie. Ons nooi jou opnuut uit om saam met ons uitvoering te gee aan die opdrag om in Japan te getuig. Bou saam voort op die lang vennootskap en word verryk en verruim deur meer te leer oor jou broers en susters in Japan, aan die uithoek van Asië. Die Here self, deur Sy Gees, maak hierdie werk moontlik en Sy sorg en genade vir Missie Japan, as deel van Moederkerk en Kruiskerk se gestuurde bedieninge, maak ons diep dankbaar. Dit vul ons ook met verwagting en hoop vir die toekoms.