Nuus vanaf August Basson
August Basson – Africa Inland Mission
Sedert ons in 1993 by Africa Inland Mission aangesluit het, het ons groot veranderinge beleef. Op ’n stadium het ons naby aan 20 sendelinge in Afrika gehad, maar mettertyd het dit afgeneem tot slegs 8 voltydse sendelinge. In daardie seisoen was daar ernstige vrae oor die lewensvatbaarheid van die Africa Inland Mission kantoor in Suider Afrika. Tog was ’n skuif reeds besig om plaas te vind. Namate Afrika kerke begin opstaan het en eienaarskap van sending begin neem het, het die sendingveld ’n sendingkrag geword.
Vandag dien 39 sendelinge saam met AIM, met 15 jongmense wat gereed is om geplaas te word en nog heelwat in die pyplyn. Die afgelope 15 jaar het daar soveel van ons energie hierin ingegaan. Ons is so dankbaar die beweging is besig om momentum te kry. Dit is waarvoor ons werk: Enabling others to go!
Een van die grootste uitdagings vir hierdie jong sendelinge is om finansiële ondersteuning in te samel. Vir baie voel dit soos ’n onoorbrugbare berg. Indien jy graag wil help om hulle te ondersteun en aan te moedig om die veld te bereik, kontak my gerus ons help graag om mense met individuele sendelinge te verbind. Ons werk met Growing Nations in Lesotho het ook deur ’n moeilike, maar betekenisvolle oorgang gegaan. Ons as sendelinge het doelbewus begin terug tree, om bloot ’n mentorsrol te speel. Ná ’n tyd van moedeloosheid het dinge begin draai.
Vandag floreer die plaas, die span neem eienaarskap, en daar is tekens van inkomste uit lusern en ander produkte. Die grootste behoefte vorentoe is besproeiing vanuit die rivier langs die eiendom, sodat daar ook in droë tye volhoubaar verbou kan word.