Wie sien vir wie? (Marié Britz)

Anselmus (een van ons vroeë kerkvaders) skryf die volgende gebed:

Leer my om U te soek en openbaar Uself aan my soos wat ek na U soek; want as U my nie beweeg nie kan ek U nie soek nie en as ek U nie soek nie kan ek U nie vind nie. Laat my U soek om U te begeer en laat ek U begeer, sodat ek U sal bly soek. Laat my U vind omdat ek U liefhet en laat my U liefhê wanneer ek U vind.

Die wederkerigheid van die verhouding tussen God en mens word deur die ou kerkvader Anselmus in die gebed so mooi verwoord. ’n Mens hoor in die gebed iets van God se diep verlange na die mens, maar ook die diep verlange van die mens na God – van ’n wederkerige verhouding van gee en ontvang, van liefhê en liefde ontvang, van sien en gesien word.

Dit herinner my ook aan die woorde van Augustinus: Noverim me noverim te – Laat my U ken, Here, dan sal ek myself ken. Dit is ook die diep wysheid van Johannes Calvyn as hy noem dat selfkennis en Godskennis die belangrikste twee fasette van die lewe is. En dat ’n mens nie altyd weet watter een eerste kom nie, want hoe beter jy God leer ken, hoe beter leer ken jy jouself en hoe beter jy jouself leer ken hoe beter leer ken jy vir God. Ook hierin word die wederkerigheid van ons verhouding met God beklemtoon. Ons as gemeente het vanjaar gekies om ons jaartema, “Raakgesien” te maak.

Maar nou die vraag: wie sien vir wie? Een van die verhale in die Bybel wat hierdie ervaring van “raakgesien” die beste vervat, is die verhaal van Hagar in Genesis 16:1-16. In Genesis 16 lees ons hoe Sarai voorstel dat Abram by die Egiptiese slavin Hagar slaap om sodoende ’n kind te verwek, aangesien Sarai nie kon kinders kry nie. Nadat Hagar hierna swanger word, lees ons, het Sarai haar sleg behandel. Uiteindelik vlug Hagar die woestyn in, en word sy inderdaad die eerste persoon in die Bybel wat deur ’n engel besoek word. Die boodskapper kondig aan dat sy ’n seun in die wêreld sal bring, en dat sy hom Ismael moet noem, ’n naam wat “God hoor” beteken. Wat merkwaardig is in dié gedeelte is dat Hagar God dan aanspreek as El Roi – die God wat sien (Genesis 16:13). Hagar het toe die naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: “U is die God wat my sien! Hier het ek Hom gesien wat my gesien het.”

Ook in hierdie ervaring van Hagar hoor ons die wederkerigheid van haar verhouding met God. God sien haar en sy sien vir God en binne hierdie ontmoeting en ervaring breek lewe oop. God sien vir Hagar en Hagar sien vir God. Ons word genooi tot ’n wederkerige verhouding met God. Juis daarom in die tye waarin ons vandag leef, is dit nodig om te stop en te sién … te sien dat God raaksien: dit wat goed is, maar ook die ellende, die misdaad, die onreg rondom ons. Juis daarom word ons genooi om dieper te kyk en God te sien, wat óns sien en ook sáám met Hom te kyk na dit dit wat ons dikwels miskyk. Dit is in die lewe van Jesus waar ons God leer sien as die Een wat ons ellende sien en daarom kies om self tussen ons te kom leef, om God-met-ons te wees. Wat vir ons kom wys hoe om mens te wees, lief te hê, ander raak te sien, ook hulle wat dikwels misgekyk word. Dit is binne hierdie wederkerige verhouding met God waar ons genooi word om elke dag te leef op die voetspore van Jesus. Dan leer ons om ook verder te kyk as onsself en ook ander en die ander rondom ons raak te sien. Dit is slegs dán dat ons as gemeente ’n rivier van lewende water sal wees wat deur ons gemeente en ons gemeenskap vloei om lewe en hoop bring – wat raaksien! (Marie Britz)