Statisties sterf daar 56 en ’n halfmiljoen mense per jaar wat uitwerk op 155000 per dag, 6500 per uur, 108 mense per minuut en omtrent 2 mense per sekonde. Vir elke keer wat jy inasem en uitasem sterf daar 7 mense.
Daar is selfs ’n humoristiese stelling wat sê dat die enigste dinge waarvan jy seker kan wees is – dood en belasting. Jy gaan doodgaan, en jy gaan belasting betaal.
Dit is so ’n feit van ons lewens dat daar selfs ’n “death clock” op die internet is (http://www.medindia.net/patients/calculators/world-death-clock.asp).
In hierdie ongelooflike meedoënlose wêreld van dood – wat sou die Bybel oor die lewe na die dood sê?
Hier is van die mees algemene vrae wat Christene (en selfs ook nie christene) vra.
- Hoe lyk die hemel?
Die Sadduseërs (’n groepering in die Bybel wat nie aan die opstanding uit die dood geglo het nie) maak die fout wat baie van ons ook maak om te dink dat die lewe na die dood maar eintlik presies gaan wees soos nou met die verskil dat alles wat sleg is net eenvoudig nie meer daar gaan wees nie. Almal gaan gelukkig en ryk en gesond wees. En seker ook so ongeveer 28, 29 jaar oud. Dit gaan amper soos ‘n permanente vakansie op ‘n Karibiese eiland wees waar jy soveel roomys kan eet soos jy wil want dit gaan geen cholesterol in hê nie. Alle groente gaan soos lekkergoed proe met die gevolg dat ons almal gesond gaan eet. En Coke gaan die gesondste drankie wees wat daar is (vir die mense in die Boland hoop hulle seker dat wyn die gesondste drankie sal wees).
In Openbaring probeer Johannes iets daarvan sê maar hy sukkel. Openbaring 21:21: “Die muur is met opaal gebou en die stad self met suiwer goud wat soos ’n skoon spieël lyk. 19Die fondamente van die stadsmuur is met allerhande edelstene versier: die eerste fondament met opaal, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag, 20die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agste met beril, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint en die twaalfde met ametis. 21Die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, blink soos ’n spieël”.
Natuurlik moet ons die woorde van Johannes nie letterlik verstaan nie. Dus – hoe gaan dit lyk? Ons weet nie. Punt. En Jesus wil kom sê dit is eintlik heeltemal ‘n futiele oefening om ons daaroor te bekommer. Die belangrikste van die hemel is dat ons dan in die volmaakte teenwoordigheid van God sal kan leef. Hoe presies dit gaan wees weet ons nie.
- As jy doodgaan waar gaan jy heen?
In die teologie praat ons van die sogenaamde tussentoestand – dit is die tyd tussen ons dood en die opstanding van die liggaam met Christus se wederkoms.
Sedert die tyd van Augustinus in die vroeë kerk word geleer dat daar tussen die dood en die opstanding ’n bedrywigheid is. Die siele van die mense geniet vrede by Christus en die weg van Christus af ly hartseer en pyn. Daar is dus ’n wagtyd terwyl die dooies uitsien na die voltooiing van hulle ewige geluk, of dan die vrees by die wat wag op hulle veroordeling.
Gelowiges leef met die sekere wete dat hulle vir altyd by die Here gaan wees (1 Tess 4:17). Daar is dus die sekerheid van die lewe na die dood. Wie glo gaan direk na die “paradys” (Lukas 23:43), ook genoem die “boesem” of die “nabyheid van Abraham” (Lukas 16:19-31). Ons gaan dus direk na Christus toe (Matt. 8:11, 12; 2 Kor. 4:17, 18; 5:1, 6-8; 1 Tes 4:13-14).
D.L. Moody:
Some day you will read in the papers that D.L. Moody of East Northfield, is dead. Don’t you believe a word of it! At that moment I shall be more alive than I am now; I shall have gone up higher, that is all, out of this old clay tenement into a house that is immortal- a body that death cannot touch, that sin cannot taint; a body fashioned like unto His glorious body. I was born of the flesh in 1837. I was born of the Spirit in 1856. That which is born of the flesh may die, that which is born of the Spirit will live forever.
- Gaan ons mekaar herken?
Johannes 20:11-16:
- Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk.
- Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was.
- Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”
- Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie.
- Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”
- Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.
Die Bybel beantwoord nie regtig hierdie nuuskierige vrae van ons nie. Nie een van ons het nog ooit enige iemand gesien met ‘n verheerlikte liggaam nie. Om die waarheid te sê, ons weet maar van net een Persoon wat uit die dood met ‘n verheerlikte liggaam opgestaan het. En dit is Jesus self. En nou is dit nogal interessant om in die Bybel te lees dat Maria hulle Hom die Sondagoggend na Sy opstanding nie dadelik herken het nie, al het hulle Hom so goed geken. Was dit omdat daar maar net te veel trane in hulle oë was? Of het Hy dalk tog ‘n bietjie anders gelyk, met Sy verheerlikte liggaam? Ons kan nie sê nie.
Die feit is dat sy Hom dadelik herken het toe Hy met haar praat. Later op die strand, het die dissipels Hom ook eindelik erken, nadat Hy soos gebruiklik opgetree het – deur Sy gedrag. Miskien kan ‘n mens daarvan aflei dat Jesus met Sy nuwe liggaam nog altyd Jesus was, en dat mens Hom kon herken as jy mooi sou kyk.
Dalk sal dit nie verkeerd wees, om van Jesus se kontak met mense, na Sy opstanding, af te lei dat ons mekaar ook eendag in die hemel sal herken nie. Ons moet net onthou dat die mense wat Jesus nie onmiddellik geëien het nie, het self nog nooit ‘n verheerlikte liggaam gesien nie. Dalk is dit waar die probleem gelê het. Toe die menslike wêreld met die geestelike EEN in kontak kom, was dit vir die mens so vreemd dat daar eers nie besef is met wie hulle te doen het nie.
Dit mag dus net moontlik wees dat ons mekaar, as beide verheerlikte mense, beter sal herken. Ons weet in elk geval dat jy nie fisiek iemand anders in die hemel sal wees nie. Die koring is dalk nie meer korrel as hy opgekom het nie, maar hy is nog altyd koring plantjie. Lukas 16:19-31, die verhaal van Lasarus en die ryk jongman laat ons die afleiding maak dat ons mekaar na die dood baie makliker sal herken, want dan is ons almal in ‘n geestelike dimensie.
Die groot vraag is egter of dit regtig vir ons so belangrik gaan wees om mekaar te herken. Ek glo amper nie. Ek glo dat God ons lewe daar so gaan vervul, dat ons heeltemal met nuwe oë na mekaar sal kyk. Ons sal mekaar dalk herken – albei as verheerlikte mense – maar dit sal tog nie dieselfde wees as op die aarde nie. Dit sal ook nie dieselfde hoef te wees nie. Want ons gaan in die hemel by God wees.
- Hoe gaan ons lyk?
1 Korintiërs 15:20-22:
- Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.
- Aangesien die dood deur ‘n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ‘n mens gekom.
- Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.
Uit die verse lei ons af dat ons liggame, soos Jesus se liggaam sal wees, nadat Hy opgestaan het. Hy is as’t ware die eerste aar van die oes. Soos Hy opgestaan het, met ‘n vleis en been substansie, sal ons ook opstaan.
1 Korintiërs 15:35-38
- Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?
- Dis ‘n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie.
- En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as ‘n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders.
- Maar God gee ‘n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het; aan elke saadsoort gee Hy ‘n eie gestalte.
Die plantjie wat opkom lyk nie soos die saad wat jy gesaai het nie. Dit weet enige tuinier tog. Kyk maar hoe lyk wortelsaad, byvoorbeeld. Wie sou kon dink dat jy eendag mooi geelwortels daarvan sou kon oes? En so kan ons voortgaan. Watter ooreenkoms is daar tussen ‘n akker en die magtige eikeboom?
En tog kan ‘n akker niks anders as ‘n eikeboom word nie. Want tussen die akker en die eike boom is daar ‘n onlosmaaklike band. Hulle is eintlik een en dieselfde, al lyk hulle so totaal verskillend. Net so, sê Paulus, lê ons die menslike liggaam na die dood in die graf. Presies hoe hy gaan lyk, as God hom weer daar gaan opwek, weet ons regtig nie. Al wat ons weet, is dat die een wat daaruit opstaan, steeds ‘n liggaamlike mens sal wees. Hy sal nie in ‘n engel of ‘n gees verander nie.
Maar al sal ons opstandingsliggaam wesentlik ooreenkom met ons huidige liggaam, sal dit heel waarskynlik ook nie presies dieselfde wees nie. ‘n Eikeboom is darem ook nie ‘n akker nie – die akker is maar ‘n flou voorafskadu van die magtige boom wat daaruit gaan ontkiem. Daarom weet ons dat ons opstandingliggaam van ons huidige liggaam gaan verskil. Die hoof hemelse eienskap van hierdie nuwe liggaam is dat dit, soos Paulus sê, nie meer aan die verderf onderworpe sal wees nie. Meer as dit kan ons nie sê nie, eenvoudig omdat ons nie weet nie.
- Nou maar wat dan van ons verskeie verhoudings wanneer ons in die hemel is? Gaan ons in die hemel nog met mekaar trou?
Jesus laat ons nie te lank hieroor wonder nie. Kyk net hoe duidelik antwoord Hy hierdie vraag van die Sadduseërs.
Matteus 22:23-33
- Op dieselfde dag het daar Sadduseërs by Jesus gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie ‘n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe:
- “Meneer, Moses het gesê: ‘As iemand sterwe sonder om kinders te hê, moet sy broer met die weduwee trou en ‘n nageslag vir sy broer verwek.’
- Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste het getrou en gesterwe. Omdat daar nie kinders was nie, het sy broer met die weduwee getrou.
- Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer en uiteindelik met al sewe.
- En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe.
- Met die opstanding dan, wie se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”
- Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.
- Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel.
- En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie:
- Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’ ? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes.”
- Toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.
Hierdie Sadduseërs was sterk politieke realiste, wat net op die dinge van hierdie aarde gefokus het. Daarom het hulle nie geglo in spoke en ander “bonatuurlike verdigsels” soos engele en die opstanding uit die dood nie. Hulle was voluit daarop uit om Jesus met ‘n strikvraag te ontmasker as ‘n onrealistiese lekeprediker wat spoke opjaag. Jesus se antwoord in daardie twisgesprek gee eintlik vir ons kans om deur die sleutelgat te loer en te sien hoe gaan die verhoudings lewe tussen verheerlikte mense lyk. Jesus sê dat die vraag van die Sadduseërs ‘n dom vraag is en daarvan getuig dat hulle die Bybel nie goed ken nie. Hulle dink nog in bloot aardse terme aan ons nuwe bestaan. Maar ons lewe in die nuwe skepping gaan op ‘n heeltemal ander vlak wees. Dis nie bloot voorspooksels nie, dis God se boodskap daaroor – die Bybel sê so. Markus 12:25 en Lukas 20:34-35 sê: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, maar die wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie.”
Klink dit vir jou asof ons dan darem ‘n wonderlike faset van ons bestaan in die hemel sal misloop? Na alles is een van die wonderlikste dinge wat hier op die aarde met ‘n mens kan gebeur, ‘n gelukkige verhoudingslewe waarin twee mense mekaar aanvul, bystaan en seksueel vervul. Sal dit nie dalk gebeur dat ons in die hemel daarna gaan terugverlang nie? As ons so dink, maak ons ook die fout wat die Sadduseërs gemaak het om, in aardse terme, oor hemelse sake te dink. Daarby onderskat ons dan die krag van God. Hy sal ons lewe so vul, dat daar geen ander verlange meer oor sal wees nie. Ons sal nie meer ‘n ander mens nodig hê om ons lewe vol en gelukkig te maak nie. God sal dan alles wees, vir almal.
Dit lyk dus vir my asof ons verhoudings in die hemel heeltemal anders gaan werk as op die aarde. In die hemel gaan ons nie meer huweliksmaats wees nie, maar ons hoef nie bang te wees dat ons iets gaan mis nie, nee, die Here gaan ons lewens daar totaal vervul.
Dietrich Bonhoeffer:
Dis opgeteken dat Dietrich Bonhoeffer wat letterlik sy lewe gegee het in politieke betrokkenheid ter wille van sy veragte naaste se heel laaste woorde aan sy medegevangenes toe hy gehaal is om te kom sterwe, was: “This is the end. For me the beginning of life”.
- Kan ons enigsins met ons geliefdes wat gesterf het kontak maak?
- “Crossing Over with John Edwards” – maak geweldig baie geld. Hy is maande vooruit bespreek teen 300 dollar per sessie.
- “Die ander kant” – Mariëtte Theunissen. Sal ook hoor van “psychic hotlines” wat adverteer.
Dit wat ons in hierdie programme sien, verteenwoordig niks nuuts nie. In 1848 twee susters, Maggie en Katie Fox, wat geluide gehoor het en hulle het later herken hulle het die geluide nagemaak. “Psychic Mafia” – ouens wat saam geld gemaak het hieruit. Die vraag is of hierdie gerusstellende, op die oog af onskuldige gesprekke met die dooies, regtig so onskadelik is soos diegene wat dit beoefen, wil voorgee.
Mediums soos John Edwards kan op verskeie maniere as tussengangers optree.
- Party praat in verskillende stemme,
- ander skryf met hulle hande wat onwillekeurig op die papier beheer word.
- En ander sien visioene of gesigte.
Daar word in die wêreld van die spiritisme gepraat van die sogenaamde derde oog, die vermoë om dan wat hulle noem, ‘channeling’ te doen. Dit word of van die een geslag na die ander oorgedra, of kan spontaan ontwikkel.
Kan mens met dooies kontak maak en kommunikeer?
- 28% Amerikaners glo dat jy kan,
- 26% sê dat hulle nie weet nie, maar laat die moontlikheid oop.
- Meer as 50% sê hulle het al die teenwoordigheid van ’n geliefde wat gesterf het, gevoel. Van hulle het hulle hoor praat of hulle visueel gesien.
Linda Georgin sê in haar boek “Communicating with the dead” dat sy al met dooies kommunikeer vandat sy 6 jaar oud is.
Kan mens met die dooies kommunikeer? Die CIA hou spesiaal spiritiste aan om hulle te help met misdaad bekamping. Volgens hulle is die spiritiste in 25% van die gevalle reg. Van 1972-1996 het die USA 20 miljoen dollar spandeer op spiritiste en in 1996 het hulle dit laat vaar, want sê die CIA: “It was unpromising”.
James Randy sê al die klomp goed is gemors en van die duiwel, in die hel uitgebroei, en hy daag enige spiritis uit vir ’n miljoen dollar om te bewys dat dit wat hy of sy doen, die waarheid is. Vir 4 jaar het nog niemand die geld opgeëis nie. Hy sê hieroor: “People not only want it to be true, they need it to be true. It is the feel good syndrome. Everyone wants to be reassured about loved ones who have passed”.
Gary Schwartz verskil radikaal en sê hy het die ouens getoets en hulle is almal opreg en die meeste van die tyd reg ook. Hy sê James Randi: “Is an eternal skeptic who will never convert”.
Meeste spiritiste kleim dat hulle optree in ooreenstemming met die Bybel, sê selfs dis ’n gawe van God. Die mediums sê Jesus was een van die grootste spiritiste want Hy het ook goed in die toekoms gesien soos byv. In Matt 21:1-3: “Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur 2 en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ’n donkie kry wat vasgemaak is, en ’n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. 3 En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.”
Wat is spiritisme? Spiritisme is die praktyk waar mediums gebruik word om kontak te bewerkstellig met die geestelike wêreld. Die nuutste is dat mediums jou help om jou beskermengel se naam te leer ken. Satanisme daarteenoor is ’n kultus. Dit is die lelike een waar offers gebring word, en satan aanbid word. Almal weet satanisme is verkeerd, maar spiritisme is eintlik die gevaarlike een.
Die media werk besonder hard om spiritisme deel te maak van ons alledaagse lewens. Flieks soos Bewitched, Ghost, Sabrina en Charmed is maar enkele voorbeelde. In die fliek Sabrina is haar ouma se naam Endora, die heks van Endor.
Hoe doen die ouens dan “Crossing Over”? Die tegniek word genoem “Cold Reading”. Geen feite word deur die mediums genoem nie. Net suggesties en voorstelle. In ’n 60 minute sessie het ’n medium met die naam van James Van Praagh slegs 2 feite genoem en 260 vrae gevra. Die ergste van alles was dat die 2 feite wat hy genoem het, verkeerd was. James Randy het John Edwards se programme ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat hy slegs 13% van die tyd reg was. Dit beteken uit 100 raaie, raai hy 13 reg.
Ook iets soos “hot reading” – waar mikrofone op plekke geplaas word en waar navorsing oor die ouens gedoen word.
Met die praktyke is dit ook vreemd dat die dooies nie meer so lekker kan praat nie want hulle wys ‘n “M” of ‘n “R” en dan mompel hulle so dat jy drie name of meer moet kry. Verder is hulle baie onduidelik dat mens ook nie seker is of hulle vir hulle koppe of hulle heupe wys nie, of hulle oud is of jonk nie, of hulle manlik of vroulik is nie.
Interessant dat nog nie een medium gesê het: Jammer, maar ek kan nie kontak maak nie, hy/sy is in ’n vreemde plek en dit lyk vir my die lyne het afgebrand nie.
Dalk moet ons net ook iets oor die sterre voorspel sê.
Jesaja 47:13-14: “Jy het jou moeg gemaak met jou baie voortekens. Laat jou voorspellers nou optree, laat hulle jou help, hulle wat die hemel opdeel en die sterre bekyk, hulle wat elke maand bekend maak wat oor jou gaan kom. 14 Maar hulle het soos stoppels geword, hulle gaan verbrand. Hulle kan hulleself nie red van die vlamme nie. Daar bly nie eens kole oor om jou by warm te maak nie, ’n vuur om by te sit nie.”
Dalk is dit ’n baie goeie vraag om te vra: Hoekom moet ek ’n afspraak maak met ’n toekomsvoorspeller? Hulle moet mos weet ek kom. 72 Voorspellings deur top voorspellers was net 6 naastenby waar. Snaaks hulle wen nooit die lotto nie – of voorspel die regte perd nie.
25 voorspellers is getoets – 92% verkeerd, 8% verduidelikbaar.
Baie mense vertel dat hulle al hul ouma of oupa gesien het. Wat is dit? Ons noem dit “transfigurasie”. Dit is wanneer ’n demon die gestalte van ’n mens aanneem. Kom ons sê dit vanaand vir mekaar baie duidelik. Jy kry nie iets soos spoke nie. Daar is wel iets soos engele of demone. Daar is nie iets soos siele wat kwansuis nie tot ruste kan kom en dan rondswerf nie.
Die Bybel is weereens hieroor baie duidelik!
- Jesaja 8:17-22: 19 Mense sê julle moet mediums en spiritiste raadpleeg wat fluister en mompel, maar moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie? Waarom sou ’n mens dooies in belang van lewendes raadpleeg? 20 Terug na die wet en die getuienis van die Here! Wie nie volgens hierdie woord praat nie, is sonder toekoms!
- 19:31: “Moenie hulp soek by geeste of waarsêers nie. Dit sal julle onrein maak. Ek is die Here julle God”.
- Lev 20:6: “Enigiemand wat aan My ontrou is deur hulp te soek by geeste of waarsêers, teen hom sal Ek optree: Ek sal hom van sy volksgenote afsny.”
- Lev 20:27: “Enige mens wat hom ophou met die oproep van geeste of met beswering, moet doodgemaak word. Hy moet met klippe doodgegooi word. Hy verdien die dood.”
- Deut 18: 10-12: “Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie ’n besweerder by jou wees nie en ook nie ’n towenaar of iemand wat voortekens lees of ’n goëlaar 11 of ’n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie. 12 Die Here het ’n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen.”
- 1 Timoteus 4:1: “Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang.”
- 1 Johannes 4:1: “Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is.”
Kan mens met dooies kommunikeer? God se Woord sê nee. Iemand wat dit beweer is met blote bedrog besig, of met onbybelse okkultiese praktyke wat deur demone beheer word.
Buitendien is daar slegs een eksplisiete voorbeeld in die hele Bybel waar iemand ’n medium geraadpleeg het om iemand uit die dood op te roep. 1 Samuel 28 waar Saul die heks van Endor raadpleeg, en dan verskyn Samuel aan hulle. Baie navorsing en baie redenasies deur geleerdes kom dit daarop neer dat ons nie seker is of dit regtig Samuel is wat aan hulle verskyn het nie, want die heks tree op as medium. Ons lees ook dat Saul eerder die medium geraadpleeg het as vir God. 1 Samuel 28:15: Samuel het vir Saul gevra: “Waarom steur jy my deur my te laat opkom?” En Saul antwoord: “Ek is baie bang, want die Filistyne veg teen my, en God het my verlaat. Hy antwoord my nie meer nie, nie deur profete nie en ook nie deur drome nie. Daarom het ek u opgeroep om my in te lig oor wat ek moet doen.”
Hoekom sou God iemand toelaat om vir Samuel op te roep as hy so uitdruklik daarteen is. Dit wil vir ons voorkom asof dit “transfigurasie” was waar ’n demoon die vorm van ’n mens aangeneem het.
Verder lees ons ook in Lukas 16 vers 27-31 van die ryk man en Lasarus en dan vra die ryk man of kan Abraham nie iemand stuur om sy broers te gaan waarsku nie, en dan sê Abraham in vers 26 nee. “Crossing Ove”r is dus onmoontlik
Ons lees in Lukas 9:31 van Moses en Elia wat op die berg aan Jesus verskyn. Was Jesus nie dalk self ’n spiritis nie? Nee, hier het ons twee mense wat deur God self in die hemel na hom gebring is, en ’n sondelose Jesus wat mens en God is, wat mekaar ontmoet. Dit kan nie naastenby vergelyk word met spiritisme nie.
Is daar iets soos reïnkarnasie?
- 42% van kerkmense glo so iets is moontlik. Hebreërs 9:27 sê nee: “’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel.”
- Job 7:9-10: “Soos ’n wolk weggaan en verdwyn, so gaan ’n mens dood en kom nie terug nie, 10 hy kom nooit terug na sy huis toe nie, en sy plek is vir altyd leeg.”
- Prediker 9:6: “Die dooies weet niks; daar wag vir hulle niks meer nie, hulle is vergeet; 6 dit is klaar met hulle liefde, hulle haat en hulle hartstog. Hulle sal nooit weer deel hê aan wat in hierdie wêreld gebeur nie.”
Daar gebeur dus een van twee goed: Ons gaan na God toe, of ons gaan na die verderf toe. Daaroor is die Bybel baie reguit.
- Lukas 16:22: “Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham.
- Lukas 16:23: “Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. 23 Toe hy in die doderyk in pyn verkeer,
- Wanneer gebeur dit? Direk nadat jy sterf. Lukas 16:22: “Toe hy sterf is hy deur die engele weggedra”.
- Jesus sê vir die moordenaar (Lukas 23:43) langs hom: Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.
- Net God is alomteenwoordig – nie satan, ’n demon of ’n engel nie. Jy word ook nie alomteenwoordig as jy sterf nie.
Die dood van ’n geliefde is altyd traumaties, maar ons sal Christelik oor die dood moet dink. Natuurlik verlang ons na ons mense, en ons wonder waar hulle is, en wat hulle doen. Maar dis nie nodig om hulle te kontak om rus vir jou siel te kry nie. Dit is ook normaal dat mense wat agterbly somtyds met onsekerheid en skuldgevoelens opgesaal sit. Dit is ’n natuurlike deel van die rou proses. Daarom – kom ons wys nou ons liefde en ons omgee vir mekaar.
Na alles wat ons gesê het staan die grootste wiskundige formule vas:
3 nails
+ 1 cross
_________
= 4 given.
As jy wil “Crossover”, gaan na Jesus, want hy het reeds “ge-crossover”. Hy het die dood oorwin, en leef in die teenwoordigheid van Sy Vader.
Jesus het in Johannes 14 gesê: “Ek gaan om vir julle plek gereed te maak, en as Ek gegaan het, en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug om julle te kom haal sodat julle ook kan wees waar Ek is”.