I.p.v. in moedeloosheid tou opgooi omdat ons gesin van koers af is, hou ’n huisvergadering en besluit watter soort gesin ons wil wees – werk ’n vlugplan (gesins-visie) uit en sorg dat julle ’n kompas (gesinswaardes) het vir julle reis.
‘n Gesinsvergadering is ‘n vergadering waar gesinslede saam besin en besluite neem oor sake wat vir hulle gesin belangrik is. Dit word op gereelde tye gehou – nie net in geval van krisisse nie. Elke gesin besluit hoe dikwels hulle wil vergader. ‘n Ouer vertel dat hulle weekliks ‘n kort vergadering hou waar elkeen sy program vir die week voorlê. ‘n Vergadering waar ander belangrike sake bespreek word, word maandeliks gehou.
Wees versigtig dat die huisvergadering nie in die eerste plek ‘n klagtevergadering word nie. As dit daarin ontaard, word die doel van die byeenkoms gemis.
Riglyne vir die gesinsvergadering:
- Besluit vooraf hoe lank ‘n vergadering sal duur en hou daarby, want as dit te lank aanhou kan die kinders belang verloor.
- Die voorsitter sien toe dat almal kans kry om insette te lewer. ‘n Gesinsvergadering is by uitstek ‘n vergadering waar gesinslede na mekaar luister.
- ‘n Sakelys word voor die tyd opgestel – gee almal kans om hulle insette te lewer. Roteer ook die voorsitterskap (so leer ons ook die kinders verantwoordelikheid). Laat iemand notule neem en maak seker dat besluite uitgevoer word.
- ’n Huisvergadering is ’n plek waar ons begin deur eers mekaar te waardeer of “well done” te sê. Almal kry kans om te sê wat hulle pla. Gee almal geleentheid om te praat en sorteer probleme op ’n positiewe manier uit. Dit is belangrik om die geleentheid te gebruik om ook saam pret te hê. Gebruik die ruimte om julle week saam te beplan – dit vergemaklik die week se logistiek.
Hier is ’n paar riglyne om Familiewenk #1 in die gesinsvergadering te hanteer:
# Elkeen sê wanneer hy/sy voel hulle familie van koers af is.
# Elkeen sê wanneer hy/sy voel hulle familie is op koers is.
# Wat kan ons gesin doen om op koers te bly?
# Elkeen noem een waarde wat as kompas kan dien om julle gesin op koers te hou.
- Skryf hierdie op ’n plakkaat en laat die kinders help om dit te versier.
- Plak dit teen die yskas of sit dit iewers op waar julle dit elke dag sal raaksien.
- Begin elke huisvergadering deur hierna te kyk. Vra dan vir mekaar of ons nog op koers is en wat ons kan doen om hierdie week op koers te bly.