In plaas daarvan dat die res van die gesin soos ek moet wees, dink en doen, respekteer en vier ons hierdie week mekaar se verskille.
Alta Marais skryf in die Positiewe Ouerskap Handleiding die volgende: ‘n Mens is geneig om te glo dat jou kinders dieselfde behoeftes het as jy. Ek onthou dat ek (‘n introvert) gesorg het dat elke kind ‘n eie, private plekkie gehad het waar hulle tuiswerk kon doen. Ek het nie verstaan dat my ekstrovert kinders dit baie moeilik gevind het om alleen te leer nie. Hulle sou liewer by my wou sit of saam met ‘n maatjie leer, omdat hulle, anders as ek, hul energie van bronne buite hulself kry en nie van innerlike bronne nie. Ekstroverte het ‘n behoefte om wat hulle beleef met ander te deel. My ekstroverte dogter het die gewoonte gehad om al die nuwighede wat sy in die skool geleer het, vir my te verduidelik of vir enigiemand anders wat wou luister. ‘n Ouer wat gesteld is op orde en let op fyn detail, roem daarop dat hy nooit iets verloor nie en vind dit moeilik om te verstaan dat sy kind gereeld potlode en boeke en nog vele ander dinge verloor. Wat hy nie verstaan nie, is dat sy kind moontlik ingestel is op die groot prentjie en konsentreer op die verband tussen dinge terwyl fyn besonderhede hom verwar of by hom verbygaan. Hy is nie, soos sy ouer dink, bloot onverantwoordelik nie.
Dit is belangrik om te verstaan dat elkeen in die gesin uniek is. Ons dink en doen dinge soms op verskillende maniere. In plaas daarvan dat dit ‘n bron van konflik kan wees, kan ons dit sien as ‘n verryking. Kom ons doen hierdie week moeite om elkeen se uniekheid te waardeer en te sien as iets wat ons gesin ryker maak.
Praktiese wenke
- Openbaar begrip as jou introvert kind soms haar maatjies alleen laat omdat sy alleen wil wees om te herlaai.
- Probeer verstaan dat jou een kind baie netjies kan wees, terwyl ‘n ander een se goed rondlê.
- Een kind sal moontlik altyd vrolik en prettig wees terwyl die ander een ernstig en teruggetrokke is.
- Neem in ag dat een kind hom maklik by die meeste omstandighede kan aanpas, terwyl ‘n ander georganiseerd is en swaar kry as omstandighede verander.
- Sommige kinders kan praktiese probleme oplos en sal verstaan hoe om jou nuwe stofsuier aanmekaar te sit, terwyl ‘n ander oor abstrakte probleme wonder. Die een is nie slimmer as die ander nie; hulle verskil bloot van mekaar.
- In die wêreld het ons mense met al die verskillende voorkeure nodig. Een voorkeur is nie reg en die ander verkeerd nie.
- Gee aan elkeen in die gesin ‘n spesifieke dag die volgende week waarop die res van die gesin ingestel is op daardie een se unieke persoonlikheid. Besluit op een ete per dag waarop die gesin saam eet. Gebruik dan die geleentheid om die gesinslid wie se dag dit is, te komplimenteer en sy/haar unieKe persoonlikheid te vier.
- Maak ‘n afspraak by die kerkkantoor om die Meyers & Briggs vraelys in te vul. Van die leraars is geakkrediteer om die toets af te neem en die resultate aan jou te verduidelik.
- Die boek Nurture by Nature: Understand Your Child’s Personality Type – And Become a Better Parent geskryf deur Barbara Barron-Tieger gee ‘n beskrywing van al die verskillende Meyers & Briggs persoonlikheidstipes in al die ontwikkelingsfases van kinders [van peuter stadium tot die van adolessente]. Hierdie boek sal jou help om jou kind in sy/haar verskillende ontwikkelingsfases beter te verstaan en te waadeer.