In ons besige skedule maak ons hierdie week tyd vir ‘n gesinsvergadering waar ons as gesin almal op dieselfde bladsy kom deur na mekaar te luister en saam iets lekker te doen.

In ons besige en gejaagde lewe kom gesinslede soms min by mekaar uit en kan swak kommulikasie tot misverstande en groot frustrasie lei wat gesinslede van mekaar kan vervreem. ‘n gesinsvergadering kan ons help om hierdie misverstande en frustrasies te minimaliseer.

‘n Gesinsvergadering is ‘n vergadering waar gesinslede saam besin en besluite neem oor sake wat vir hulle gesin belangrik is. Dit is ‘n vergadering wat op gereelde tye gehou word – nie net in geval van krisisse nie. Die vergadering word op ‘n tyd gereël wat almal pas. Elke gesin besluit hoe dikwels hulle wil vergader. ‘n Ouer vertel dat hulle weekliks ‘n kort vergadering hou waar elkeen sy program vir die week voorlê. ‘n Vergadering waar ander belangrike sake bespreek word, word maandeliks gehou. Op die wyse bly die gesin in voeling met mekaar in plaas daarvan dat hulle vreemdelinge vir mekaar word.

Ouers kan die moontlikheid van ‘n gesinsvergadering met hulle gesin bespreek en dan daarmee begin as die meeste gesinslede gereed is. Kinders kan ingeskakel word sodra hulle basiese taalvaardigheid het. Hoe jonger die kinders, hoe korter die vergadering. Wees versigtig dat die huisvergadering nie in die eerste plek ‘n klagtevergadering word nie. As dit daarin ontaard, word die doel van die byeenkoms gemis. Ter wille van kinders wat skrikkerig is vir so ‘n nuwigheid, kan begin word deur eers net gesinsuitstappies en ander gesinspret te beplan.

 Riglyne vir die gesinsvergadering:

  • Die gesinsvergadering is nie ‘n plek waar ons mekaar wil bykom of uitsorteer nie – dit is in die eerste plek ‘n ruimte waar ons na mekaar luister.
  • Gee elkeen kans om te sê hoe sy week was. Dit is altyd goed op eers op die positiewe dinge te fokus.
  • Elkeen kry kans om te sê wat jou pla – almal luister en lewer nie kommentaar nie. Ons doen dit later wanneer ons prbleemoplossing doen.
  • Skryf neer watter frustrasies/probleme daar is – as almal kans gehad het om te praat, vat ons die probleme een vir een en kom saam by ‘n oplossing uit.
  • Die gesinsvergadering is ‘n ook plek om vir mekaar te sê hoe elkeen se week lyk. Dan kan ons reëlings tref en weet wie wanneer waar moet wees.
  • Deel huistake uit sodat almal kan bydrae om die huis ‘n lekker plek te maak waarna almal wil terugkom.
  • Die gesinsvergadering is ook ‘n lekker ruimte om mekaar te waardeer. Elkeen sê iets positiefs oor elkeen van die gesinslede.
  • Sluit af om iets lekkers te doen – gesinspret bind ‘n gesin aan mekaar. Ek weet van ‘n gesin wat gereeld so vergadering – hulle sluit hulle vergadering af deur saam trampoline te spring, aft e stap dorp toe om ‘n roomys te koop, of almal op fietse te spring en om die blok te ry.