Die week is ons empaties met ons kinders deur hulle emosies te erken.
Daar is ‘n direkte verband tussen hoe kinders voel en hoe hulle hulleself gedra. As kinders goed voel, gedra hulle hulleself goed. Deur empaties te wees, jouself in jou kind se skoene te plaas en om jou kind te probeer verstaan en agter te kom hoe hy/sy voel, kommunikeer jy twee belangrike dinge: i) Jy is spesiaal, ii) Ek gee vir jou om. Hierdie twee boodskappe opsigself is genoeg om enige kind beter oor hom-/haarself te laat voel. Die kind se gedrag sal ook dien ooreenkomstig positief verander.
Ons is egter eerder geneig om nie ons kinders se gevoelens ernstig te neem nie. Dikwels maak ons hulle reaksies teenoor ons af met opmerkings soos
Dis nie so erg nie . . .
Jy verbeel jou . . .
Ruk jou reg . . .
Dis onsin . . .
Moenie laf wees nie . . .
Sulke ontkennende reaksies is ‘n mosie van wantroue in ‘n kind se belewing van ‘n situasie en lei dikwels tot ‘n argument. Jy gee deur sulke reaksies te kenne dat die kind nie ‘n reg op negatiewe emosies het nie. Daar word eerder aangedring dat hy sy slegte gevoelens moet wegstoot. Al doen ouers dit met die beste van bedoelings, is die gevolg daarvan dat ‘n kind nog meer ontstelt raak.
Om empaties te luister en erkenning te gee aan jou kind se gevoelens beteken nie dat die gedrag of gevoelens van ‘n kind goedgekeur word nie. Dit beteken bloot dat ouers begrip toon vir die kind se gevoelens. Die erkenning van die emosie is dikwels genoeg om die angel uit enige situasie te haal en voel die kind sommer gou beter omdat sy ouer geluister het en begrip getoon het.
Wanneer ons kinders se emosies erken, help ons hulle ook om hulle eie emosies en gevoelens te leer ken. Hierdie selfkennis is noodsaaklik vir die groei en ontwikkeling van emosionele intelligensie. Dit help die kind ook om mettertyd sy eie emosies beter te formuleer en te verwoord.
Praktiese riglyne
- Gaan soek op die internet ‘n tabel met verskillende gesiggies wat verskillende emosies uitbeeld. Plak dit teen die yskas. Wanneer jou kind emosioneel is, sê hy/sy moet wys soos watter gesiggie hy/sy voel. Hierdie kan ‘n speletjie word wanneer almal aan die tafel sit vir ete, elkeen kans kry om bv twee gesiggies te kies wat jou nou die beste beskryf. Op die manier help ons mekaar om ons eie begrip rondom emosies te vergroot en mekaar beter te verstaan.