Ten spyte van ons almal se besige programme, maak ons hierdie week tyd vir mekaar. Probeer as gesin iets lekker saamdoen die week. As ouer, probeer 10 min kwaliteit tyd elke dag met elkeen van jou kinders te spandeer.
Ons sien en ervaar dikwels dat ons kinders om ons neul, hulle soos hansworse gedra, soos ’n laspos optree of sommer net lui is. Dit laat jou as ouer geïrriteerd voel, want jy moet opdragte herhaal en dit haal soms die slegte in jou uit wat jou selfs op jou kind laat gil. Wat moet ek as ouer verstaan? My kind kry nie genoeg aandag nie en sal selfs tevrede wees met negatiewe aandag as hy/sy dit nie op ’n positiewe wyse kry nie. Wat kan ek as ouer doen? Ek kan ophou met negatiewe aandag en kwaliteit aandag en tyd aan my kind begin gee.
Kwaliteit tyd is die fondament van ouerskap en elke kind se geboortereg. Dit is een van die maklikste maniere om kinders se emosionele tenke vol te maak. Dit geld nie net vir ouers teenoor hulle kinders nie, maar veral ook in huwelike. Kwaliteit tyd is ’n belangrike liefdestaal wat ons almal aan mekaar verskuldig is. Ons gee dit wanneer ons alleentyd saam met mekaar as huweliksmaats spandeer, of wanneer ons met elkeen van ons kinders apart tyd deurbring. Dit is belangrik dat ons tyd maak om alleen met ons kinders te wees en op elkeen se unieke persoonlikheid en behoeftes te fokus. Ons spandeer ook kwaliteit tyd wanneer ons as ’n gesin saam tyd spandeer en iets lekkers doen.
Moenie wag tot jou kinders of jou maat dit vir jou vra nie. Wees pro-aktief en werk dit in jou program in – jy sal die vrugte daarvan pluk!
Praktiese wenke hoe om kwaliteit tyd in julle gesin te spandeer
- Doen saam met jou kind wat hy/sy graag wil doen (laat hulle voorstel).
- Speel saam “Monopoly”, bou saam “Lego”, “Meccano”, of legkaart
- Swem saam
- Speel wegkruipertjie
- Maak ’n voorstel vir ’n aktiwiteit waarvan hy/sy hou.
- Speel saam krieket, gooi bal.
- Bak saam koekies
- Neem hom haar saam na ’n konsert/vertoning/wedstryd
- Ouers spandeer kwaliteit tyd as hulle hul gevoelens met hulle kinders kommunikeer.
- Sê vir jou kind jy is lief vir hom/haar en wys dit fisies deur hulle vas te hou en te druk
- Skryf ’n briefie en sit dit in die kosblik
- Stuur ’n SMS, what’s up, BBM
- Kwaliteit tyd kry gestalte in Rituele of gewoontes.
- Stories met slaaptyd
- ’n Spesiale ritueel as julle uit die huis gaan as die dag begin
- Spesiale maniere hoe julle verjaarsdae, doop datums, Kersfees of Paasfees vier
- Die vier van oorgange soos die eerste skooldag, eerste hoërskool dag