“Don’t sweat the small stuff”. Besluit wat julle gesin se prioriteite is en spandeer julle tyd en energie daaraan hierdie week.
VERMY BETROKKENHEID BY ONBENULLIGHEDE en fokus julle energie eerder op gesinsPRIORITEITE
Vermy gewoontehandelinge soos byvoorbeeld om hare uit jou kind se oë te vee, jou vinger tussen haar blaaie te druk om haar te herinner om regop te loop, haar klere reg te trek en haar te druk en soen wanneer sy dit nie wil hê nie. Sodoende neem ons die kind se privaatheid oor. Laat kinders toe om hulle eie liggame te besit.
Kinders wil nie die volgende hoor nie:
“Jou neus is te na aan die boek” / “Moenie so snuif nie”
“Sit regop” / “Steek jou hemp in”
Hoe reageer kinders hierop? “Los my uit” / “Get off my back”
Die rede waarom ouers hulself die moeite kan spaar om oor ‘n saak te neul is doodeenvoudig: Dit help nie! Gesels liewer met kinders oor die probleme wanneer hulle nie oortree het nie en julle rustig is. Dit mag wees dat ‘n kind wat sy neus te naby die boek hou ‘n oogprobleem het en die een wat krom sit ‘n posturale probleem het. Dink eerder weer na oor julle gesinsprioriteite en spandeer jou energie daar!
Praktiese wenke
- Kry ’n tyd om ’n gesinsvergadering aan die begin van die week te hou. Gaan kyk weer na julle gesinsvisie en –waardes (Familiewenk #1) – dit wat julle gesin op koers hou.
- Speel die volgende speletjie saam:
- Benodigdhede: groot glasbak, groot pak marshmellows wat die bak net mooi vol maak, ’n pakkie smarties vir elkeen in die gesin.
- Laat die jongste die smarties oopmaak en onder in die glasbak gooi. Die tweede jongste maak nou die marshmellows oop en gooi dit bo-op die smarties in die bak. Die marshmellows behoort nie almal in te pas nie.
- Haal die marshmellows uit en gooi die smarties oor in ’n kleiner bakkie. Gooi die marshmellows nou terug in die bak wat gelykvol is. Neem nou die smarties en gooi hulle ook in. Hulle vul die klein spasies tussen die marshmellows op. Wanneer mens dus eers die marshmellows ingooi en dan die smarties, pas alles in in die bak.
- Verduidelik nou vir die kinders dat bogenoemde speletjie ’n belangrike beginsel illustreer – doen eers die groot en belangrike goed en los die onbenullighede vir later – anders kry ons die belangrikste goed nie gedoen nie.
- Besluit as gesin wat die belangrikste goed/prioriteite vir julle week is en skryf dit neer. Plak dit op die yskas en herinner mekaar die heel tyd om daaraan te werk en aandag te gee. Besluit ook om hierdie week nie te reageer op onbenullighede wat jou pla in die gesin nie. Ons fokus op die prioriteite en kan by ons volgende huisvergadering tyd gee om te gesels oor wat pla of probleme is.