Misverstand veroorsaak baie pyn in gesinne. Hierdie week maak ons ’n punt daarvan om mekaar te vergewe, vry te spreek en beter begrip vir mekaar te kweek.
Een van die grootste misverstande in verhoudings vind plaas wanneer ons aannames maak en dan persepsies daar rondom bou en dikwels verkeerde afleidings maak. Die klassieke voorbeeld hiervan is ‘n pa wat met sy woelige 4 laerskoolkinders op ‘n trein klim. ‘n Geïrriteerde passasier probeer die in-gedagte-pa se aandag kry wat uitstaar by die venster terwyl sy woelige kinders op die banke spring en die trein op horings neem. Toe die passasier sy aandag kry en die man besef wat rondom hom aan die gang is, vra hy verleë verskoning:
Ek is vreeslik jammer oor die ongerief. My aandag was vir ‘n oomblik glad nie by die kinders nie. Ons kom nou net van die hospitaal af waar my vrou en die ma van hierdie vier kinders oorlede is. Ek dink nie hulle weet lekker hoe om dit te hanteer nie . . . Ek sal hulle nou probeer rustig kry . . .
Een van die maniere om misverstande uit die weg te ruim, is om versigtig te wees om aannames te maak. Vra eerder ‘n vraag om seker te maak of jy die ander persoon reg verstaan het. Partykeer hoor ons sleg, verstaan ons verkeerd, of weet ons nie wat die ander een bedoel en voel nie. Deur te vra: Verstaan ek jou reg . . . , Hoor ek reg as jy sê . . . , Ek wil net seker maak of dit is wat jy bedoel . . . kan ons baie angels uit situasies haal en die lug suiwer.
Maar soms loop dinge net skeef en sukkel ons om die “pause” knoppie te druk en vryf ons mekaar verkeerd op en maak ons verkeerde afleidings . . .
Dan kan ons maar net grootmoedig wees en “jammer” sê. Om te vergewe is soms van die moeilikste goed in verhoudings – bloot omdat ons so kwaad kan wees vir die ander een dat ons net nie wil vergewe nie. Kom ons doen twee goed hierdie week:
- Ons neem ‘n besluit om nie aannames of afleidings te maak nie, maar maak seker ons verstaan die ander een reg deur te vra wat die ander een bedoel en voel.
- Ons sê jammer, en ons vergewe.
Praktiese wenke
- Maak ‘n punt daarvan om te vra wat die ander een bedoel of voel, of as jy onseker is oor ‘n reaksie van een van die gesinslede. Moenie toelaat dat die ander een se emosie joune bepaal nie. Bly kalm en probeer misverstand uit die weg ruim deur seker te maak ek verstaan die ander een reg.
- Om te erken jy was verkeerd en om dan jammer te sê, bou aan die fondasie van stewige verhoudings. Stuur ‘n sms vir jou tiener om jammer te sê as jy jou geduld verloor het en lelik met hom/haar gepraat het.
- Moenie gaan slaap voordat jy nie jammer gesê het nie. En as jy moet vergewe, maak ‘n tyd om te PRAAT en te sê wat die “misverstand” aan jou gedoen het, en dat jy vergewe.
- As ons nie kan jammer sê of kan vergewe nie, hou ons mekaar gevange en kan ons nie vry wees in ons verhoudings nie.