Ons het twee ore en een mond gekry. Hierdie week probeer ons beter na mekaar luister.  LUISTER is die hoogste vorm van respek!

Luister is die sleutel wat die hek oopsluit na verdere kommunikasie wat help om gesonde verhoudings in die gesin te bou. Wanneer ouers nie kan deurdring tot hul kinders nie, blameer hulle dikwels die generasiegaping. Kinders kla weer dat hulle ouers nie na hulle luister nie. Om empaties te wees is dit nodig om te kan luister. Vir sommige mense is dit maklik om met volle aandag na iemand te luister, maar ander moet maar hard daaraan werk om dié kosbare vaardigheid te bemeester.

Baie ouers het in die tyd grootgeword toe kinders gesien maar nie gehoor moes word nie. Kinders is toe nie ‘n mening gegun nie. Vandag besef ons hoe nodig kinders dit het dat hulle ouers hulle hoor en hoe nodig ouers dit het om hulle kinders te hoor.

As ‘n iemand met volle aandag luister, dra hy twee boodskappe oor: “Ek gee om” en “Jy is vir my belangrik“.   Luister beteken om as jou kind met jou praat alles te staak waarmee jy besig is (die stoof of televisie af te sit, die selfoon en rekenaar te los) en om by hom of haar te gaan sit. Luister begin dan met ‘n nie-verbale boodskap:

Maak oogkontak, let op jou kind se liggaamstaal, stemtoon, gevoel en die inhoud van wat sy sê. As jy gespanne voorkom of haastig is, sal dit nie werk nie. As jy konsentreer en jou liggaamshouding wys dat jy belangstel, sal jou kind beleef dat sy gehoor word. ‘n Mens spaar tyd as jy dit doen, want as jy met volle aandag luister sal jou kind haar behoefte stel en klaarkry. As jy met ‘n halwe oor luister terwyl jy besig is met nog ‘n taak, beleef jou kind dat sy nie gehoor word nie en sy sal waarskynlik aanhou neul.

‘n Ma wat baie besig en geokkupeerd was vertel hoe haar jong dogter haar een dag aan die arm getrek en gesê het: Ma sit op jou bril; sodat jy my kan hoor! Hiermee het haar dogter wou sê: Ma ek soek jou volle aandag. LUISTER asseblief.

 Luister is die hoogste vorm van respek. Iemand het eendag hierdie treffende opmerking gemaak: We listen people into existence. Emeritus Aartsbiskop Tutu het in sy boek Made for Goodness gesê: We listen people into Healing.

 Praktiese wenke

  • Maak ‘n punt daarvan om hierdie week nie raad te wil gee nie, maar eerder te luister. Wanneer ons net luister, met ons liggaamshouding instemmend is en beaam, kry die ander een dikwels hulle eie antwoorde.
  • Wanneer ons luister, is ons soos ‘n spieël en hoor die ander een hom-/haarself. Hou die week die spieël op vir jou maat en jou kinders.
  • Let op jou liggaamstaal wanneer jy luister. Maak ‘n doelbewuste keuse om met volle aandag te luister – staak dit waarmee jy besig is en kyk die ander die een in die oë as hy/sy praat.