Studente se Julie-uitreike

Een van die hoogtepunte vir studente wat inskakel by Kruiskerk is die geleentheid om jaarliks op een van die Junie/Julie uitreike te gaan. Baie van ons wat studente was en deel was van so ’n uitreik, kan vandag nog getuig van die groot invloed wat dit op ons gehad het. Vir baie is dit een van die gewigtigste momente in hul geloofslewe – ’n tyd van verdieping en ook die begin van vriendskapsbande wat vir ’n leeftyd hou. Die teleurstelling was natuurlik groot toe dit in 2020 nie kon plaasvind nie, en daar heers steeds onsekerheid oor wat die situasie in ons land binne die volgende twee maande gaan wees, maar ten spyte hiervan, is ons bevoorreg om toegewyde leiers te hê wat in moeilike omstandighede die aflosstokkie dra. Hier is so ’n kykie in die harte van ons uitreikleiers.

Atlete vir Christus – Riaan Kleyn: Die teleurstelling was natuurlik groot toe ons in 2020 die toer moes afstel as gevolg van Covid-19. Een van die moeilikste goed was om die gemeentes waar ons sou gaan optree, te laat weet dat die toer gekanselleer is. Maar die bemoedigende deel is dat ons hierdie jaar dieselfde gemeentes weer kon nader, en hul almal deur die bank opgewonde was om ons vanjaar te ontvang. Ons besef daar is steeds baie onsekerheid, maar ons gaan voort met ons reëlings asof die uitreik wél gaan plaasvind sonder om naïef met die werklikheid om te gaan. Ons is baie dankbaar dat ’n groot aantal studente wat verlede jaar sou gaan, gelukkig vanjaar weer hul name opgeskryf het, asook ’n paar eerstejaars. Ons het reeds ons Kenmekaarkamp gehad en ons glo ons is rats genoeg om kreatief te reageer as ons wel weer ’n grendeltyd beleef.”

Transkei Werkersaksie – Le Roux Kloppers: Wat Covid my geleer het, is hoe belangrik dit is om op ander se skouers te staan wat al vantevore hierdie uitreik gereël het; om te besef ons is nie alleen op hierdie reis nie, en dat ons saam die pad bou, al is dinge geweldig onseker. Ek het ook geleer om saam met ander doelbewus te dink oor waarmee ons besig is en was in Transkei; wat dra gewig en wat nie? Hoekom doen ons wat ons doen? Beweeg ons in die regte rigting, of is dit dalk nou tyd om ons koers aan te pas? Dit was en is ’n wonderlike proses om nuut te dink en ons besig te hou met vrae wat ons andersins dalk nie genoeg gevra het in die verlede na afloop van ’n uitreik nie: wat moet ons ophou doen en wat moet ons aanhou doen? Dit was eintlik nou maklik om sekere goed net te laat vaar en vars na die uitreik te kyk. Ons span is voltallig en, alhoewel ons vir ’n korter tydperk in die Ooskaap gaan wees, hoop ons die uitreik sal kan plaasvind.

Lesotho Hoop Projek – Christine Venter: “Daar was natuurlik ’n groot mate van opwinding vir die LHP span vir 2020, en ons was diep teleurgesteld toe Covid ons van die geleentheid ontneem het. Bo en behalwe die teleurstelling, was daar ook ’n mate van verlies wat ons ervaar het, wat betref die impak wat die projek het, beide op die studente wat gaan, maar ook op die gemeenskap van Maphutseng. Ons plaas baie hoop in die voortleef van die projek in 2021 en ons is dankbaar vir die aantal mense wat steeds opgewonde is vir hierdie reis saam met God. Ons fokus gaan veral wees om ’n kleiner span met ’n klomp nuwe mense te vat, met die oog op die toekoms – veral nuwe leiers wat die leisels kan oorneem. Maar daar is steeds uitdagings, veral die bekommernis aangaande die derde vlaag wat Suid-Afrika waarskynlik gaan tref. Ons bly in biddende afwagting vir die Lesotho Hoop projek 2021, wat in Julie plaasvind.”

August Basson skryf…

Op 13 Maart 2020, na ons jaarlikse sendingopleiding, steek ek die grens van Lesotho oor om Steytlerville toe te ry.  En eers 432 dae daarna steek ek weer die grens oor – die langste periode in my lewe sedert 1993 sonder enige werk buite die grense van SA.  Ek het genoeg gehad van Zoom-vergaderings en Whatsapp gesprekke en -posse.  Gelukkig kon ek ons span in Lesotho in die oë gaan kyk en saam om ‘n tafel sit, saam Bybel lees, beplanning doen, bemoedig en sommer net saam feesvier.  Ons span doen so goed op hulle eie.

Ek moet sê ek was redelik desperaat om net weer ‘n voet in die deur te kry wat my werk aanbetref.  Die jaar was lank en daar het nie veel op die werksfront gebeur om oor opgewonde te raak nie.  Ek preek waar ek kan.  Ek help met kategese in Ladismith.  Ek doen my deel om Zoom aan die gang te hou.  Ek hou kontak met my jongmense.  Ek woon die elektroniese konferensies by, maar dit bly geweldig onbevredigend… My roeping en werk behels nog steeds om dit moontlik te maak vir ander om sinvolle bedienings te ontwikkel.  Ek soek die mense en die werk en bring hulle bymekaar.

Keke is een van ons eerste studente van Maphutseng.  Dit is reeds 10 jaar gelede wat sy klaar gemaak het.  Nou droom sy daarvan om haar eie program te begin vir meisies wat klaar is met skool.  Nou stap ek, Keke en die Growing Nations ‘n pad om dit ‘n realiteit te maak.  Gaan soek haar gerus op Facebook – Keke Phooko.  Sy is so ‘n inspirasie.

Die ligpunte in ons werk:

  • Orateng is een van ons nuwe sendelinge uit Botswana.  Hy en Thato gaan hopelik Mosambiek toe.  Orateng en Thato het beide hulle sending opleiding voltooi.  Hulle is ook albei aanvaar deur Africa Inland Mission.  Dit is so ‘n groot stap vorentoe.  Hulle gaan in Mosambiek werk.  Bid asb saam met ons vir hulle visas en befondsing.
  • Maureen Naymbura van Kenya is reeds volstoom aan die gang in Mosambiek.
  • Lerato Lesoetsa van Lesotho werk in Uganda.
  • Neo Moeti ook van Lesotho werk in Kenya.
  • Ons is besig om te beplan aan ‘n span na Mosambiek vir 2 maande.  Dit is met hierdie geleenthede wat ons die meeste van ons nuwe sendelinge kry.
  • Growing Nations se werk gaan baie goed aan, ten spyte van ernstige finansiele tekorte.  Die heel belangrikste werk is ons jaar lange inwonende program.  Daar is vanjaar 6 studente en dit is wonderlik om die groei in hulle lewe te sien.  Hier kry jong mense die toerusting om soos Keke ‘n lewe uit die grond te maak.  Hulle harte en koppe is nie dieselfde na ‘n jaar nie.  Ai dis lekker om dit te beleef.
  • Met Covid sukkel ons geweldig om sendelinge in sekere lande geplaas te kry.  Growing Nations gaan as ‘n basis te gebruik om hierdie mense toe te rus.  Dit gaan ‘n 5 maande opleiding behels waarby ek betrokke gaan wees.

In ‘n neutedop probeer ek om strategiese skuiwe te help fasiliteer wat ‘n vermenigvuldigende effek het in die Koninkryk.

Vir die wat nie weet nie ons woon nou in Ladismith in die Wes Kaap.  Ons het saam met vriende ‘n stukkie grond gekoop.  Dit is so ‘n voorreg om saam met mense soos Willem en Marnette die pad te loop.  Ek kan met groot gerustheid my werk gaan doen en Anita is veilig en die plaas loop op eie stoom met  Willem aan die stuur.