Nuus vanaf August Basson
Ek moet sê toe ek deur die grens ry was my hart tot oorlopens toe vol. Ons almal was diep bewus van die werk van die Heilige Gees. Net soos in die vroeë kerk roep en stuur God vandag nog mense na ’n wêreld wat Hom nie ken nie. Oor die jare het my rol verander om dit ook vir ander moontlik te maak om te gaan. Dit was maar by tye koud op die motorfiets, maar soos altyd, tog te lekker.
Ek was die spreker by die Jeugkonferensie van die Apostolic Faith Mission Gaborone. Die Here is besig om ’n baie interessante pad met die gemeente te stap. Vir maande reeds is daar ’n roepingsbewustheid rondom die rol wat Botswana, en veral hulle, behoort te speel in sending. Dit was ’n inspirasie om te sien met hoeveel erns die jongmense hiermee omgaan. Hulle het elke aand se Skrifgedeelte en tema baie noukeurig gekies en aan my deurgegee.
Die Sondagoggend het werklik die tafel gedek vir die res van die week. Nadat ek die preek afgesluit het, het Prof Nkomazana opgestaan en begin vertel wat die invloed was van Livingston in Botswana. Hy gaan toe verder en daag die jong mense uit wat voel die Here roep hulle om in die sending in te gaan om op te staan. Uiteindelik staan daar 11 en deur die loop van die week het die groepie gegroei na 20.
Hierdie klomp jongmense is vir my ’n inspirasie. Ons kom nou weekliks bymekaar vir bemoediging, om saam te bid en die pad vorentoe vir hulle te bespreek. Van hulle is gereed om onmiddelik planne te begin maak om grense oor te steek. Vir ander lê die lang pad van studeer voor. Dit is onmoontlik om elkeen se storie hier te vertel. Ek is maar net diep bewus van ’n beweging in die kerk van Botswana en dit kan so maklik uitkring en iets baie groots word. Dis so lekker om deel hiervan te wees en om te help om die vuurtjies aan te steek.
Met ’n paneel bespreking laat val ek iewers dat ek van die NG Kerk is. Dit was nogal interessant om die volgende oggend ondervra te word. Hulle het nie heeltemal verwag dat die besoekende prediker gereformeerd is nie. Dit was komieklik om hulle reaksie te sien. Uiteindelik vra hulle: “Nou hoe het jy dit reggekry om weg te breek uit die gereformeerde denke?” My antwoord was maar net dat ons dalk nader aan mekaar is as wat hulle dink en ons glo ook aan die werk van die Heilige Gees. Gelukkig het hulle dit nie voor die tyd geweet nie. Dis darem snaaks hoe ons etikette om mense hang en dan voor die tyd besluit wie en wat hulle is.
Dankie vir almal se bydraes tot my salaris wat dit moontlik maak om my werk te kan doen.
Bid saam met ons:
• Vir die leierskap in AFM Gaborone. Veral vir pastoor Tamado wat hulle lei. Dit is mense wat erns maak om God se leiding te soek in alles wat hulle aanpak.
• Vir elkeen van die jongmense wat op soek is na hulle plekkie dalk buite die grense van Botswana.
• Vir my en die ander Africa Inland Mission personeel vir wysheid om hulle op die regte manier in die proses te lei.
• Volgende week stap ek saam met die studente van Stellenbosch die berge van Lesotho in. Bid asb vir die uitreik en wat God in elkeen se harte wil doen. Dit bly een van die hoogtepunte elke jaar. Dan is daar nog ’n uitreik van Ds Wouter van Velden van Bloemfontein wat ’n groep studente na Maphutseng bring.
August Basson (e-pos: august.basson@aimint.org)
